Sagte Pastelle

Home » Sagte Pastelle

Gister het ek hulle uitgehaal.  Een vir een in my hand gehou – baie saggies.  Eerder fotos van hulle begin neem. Nog steeds nie met hulle geteken nie, al wou ek.

Vandag was ek braaf: swart papier uitgehaal en tafel in die middel van die vloer getrek in die son en hulle mooi langs die boek gesit.  Nog steeds so netjies in hulle boks. Die son se strale is helder op die kleure soos hulle gerangskik in ‘n ry, teen mekaar lê – lyk soos ‘n reënboog.

Ek weet nie regtig wat ek wil teken nie. Sit vir ‘n rukkie met hande saggies op die swart papier, my oë op die kleure… Watter een sal ek eerste kies?  Maak dit saak?

Soos altyd begin ek sirkels teken, een om die ander een, een kleur om die ander kleur.

Dit laat my veilig voel. Terwyl ek die sirkels teken en die kleure om en om trek, bring dit ander sirkels terug in my gedagtes.

Ek was seker 6, amper 7, net voor ons SA toe getrek het. Ons het in ‘n kibboets gebly in Ludriz, Namibia. My pa het daar gewerk op die hawe, stoom trein gery, op en af. Ons soms opgelaai en weer afgelaai, vir my, my boetie en sussie.

As ek die twee weer vra wat onthou hulle van daardie tyd en plek , is altwee se eerste antwoord: die bakkery in die hoof straat. Daar waar die vars brood reuk in jou neus vir jou maag vertel dat jy nou honger is.  Ek kan dit nog steeds onthou na 42 jaar.

Ons al drie onthou die groot swart nickerbols wat hulle daar verkoop het in ‘n glas bottel op die rak. My kop het nooit by die toonbank verby gesteek nie – ek was te klein vir my ouderdom maar ek kon net my hand uitsteek en die tannie het oor geleun en die groot swart nickerbol in my hand palm gesit.  Ek het dit saggies vasgehou.

 

Die swart nickerbol het my hele handjie vol gelê as ek dit vas gehou het. Die swart het afgesmeer aan my reeds vuil handjie – gebol omdat ek bang is dit val, rol en breek.

Ons het dan gehardloop tot op die strand en daar gaan sit en vir die see gekyk – die son helder geskyn op die toneel om ons.

Die nickerbol in die mond het sy kleur verander van swart na wit. As jy dit uithaal en in die lig hou kon jy raai wat is die kleur wat onder die wit uitsteek, dan weer verder suig om by die volgende kleur uit te kom. Soms as ons 2 of 3 nickerbols gehad het het ons een in twee halftes gebreek om die sirkel patrone te kon sien om die mooi daarvan teen die son te hou. Dit lyk soos ‘n reënboog.

Soms het een geval en in baie stukkies gebreek en dan kan jy dit nie weer aanmekaar sit nie, miskien het ek dan ‘n bietjie gehuil oor die stukkend maar ek kan dit nie onthou nie. Ons het die stukkies opgetel en afwas, sodat ons nog steeds die lekker van dit kon kry, al was dit stukkend.

Die swart kring om die mond was ‘n teken van lekker en dit het tot bad tyd daar gebly.

Die pastelle was nie meer heel nadat ek klaar my sirkels geteken het nie. Ek moet dalk nog leer om dit sagter vas te hou. Dit was ‘n emosionele rit terug in die verlede in, maar ‘n mooi een. Die onthou en die reuk, die son en die kleur, die reënboog wat nog steeds op die tafel langs my is – al is hulle nie meer heel nie.

Vandag se sirkels op ‘n swart papier is dieselfde patroon as die nickerballs van lank terug. Die kleur van die pastelle op my vingers het daar gebly tot ek dit rustig gaan afwas het.

Die huil was vir sagte gebreekte pastelle; oor die mooi wat dit my help herleef het; oor die sagte warmte wat ek weer kon ervaar.

Ek is bly ek het dit nie net in die boks gelos nie.

Ek is bly ek het die vuil poeier op my vingers gehou vir ‘n rukkie.

Ek is bly vir die swart papier waarop ek sirkels kon op teken.

Ek is bly vir die 6 jarige gelukkige oomblik, en ek is bly daar is nog stukkies van die pastelle oor wat nog werk al is hulle nie meer so perfek nie.

Ek is bly vir die son se strale wat op die prentjie geskyn het, en ek huil saggies strepies oor my wange wat daar sal bly tot die volgende bad tyd.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Purchases can be made through e-mail so contact us if you are interested

Scroll to Top